| |
God se hande en voete
God se hande en voete, die droom van die bediening is die totale transformasie van
die minderbevoorregte gemeenskappe van Jeffreysbaai. In so ‘n getransformeerde
gemeenskap leef elke persoon volgens sy/haar potensiaal en word ‘n omgewing geskep
waarbinne mense menswaardig kan bestaan tot eer van God, die Skepper.
Die manier waarop ons te werk gaan is eerstens deur verhoudingsbou. Ons glo dat mense
self die beste weet wat hulle dringendste behoeftes is. Die behoeftes wat op hierdie
manier bepaal is, is eerstens die mees basiese fisiese behoeftes. Daarom deel ons
kospakkies uit, voorsien sop, klere en komberse en verbeter die woonplekke.
Omdat die mense besef dat hulle nie werk kry nie weens ‘n gebrek aan vaardighede gee
ons ook vaardigheidsopleiding. Tans word hulle opgelei in houtwerk. Juis vanuit die
verhoudings wat ons met mense het, het hulle ook die behoefte uitgespreek om te leer
lees en skryf. Die geletterdheidsopleiding gaan ook die tweede jaar binne en die tweede
groep het pas begin. Huisverbeterings word gedoen deur vloere in te sit sodat die water
nie deur die huisies stroom nie, en dakplate te verskaf sodat hulle beskerm word teen die
reën en wind. Soms word huise in ‘n oomblik in puin gelê deur brande en dan help ons om
dit weer te bou.
Ons is oortuig daarvan dat God wil dat ons omsien na die armes en mense in nood. Hy wil
dat Sy kerk ‘n verskil maak. Daarom is dit vir ons belangrik om saam te werk met die
gemeente van Ithemba. Ons bemagtig dan ook gemeentelede om uit te reik na hulle
medemens in hulle eie omgewing. Hulle help met die huisverbeteringe, kos uitdeel, siekes
versorg en die evangelie verduidelik. Daar is ook reeds ‘n jeuggroep wat elke Vrydagaand
bymekaar kom. Hier word sake bespreek wat vir hulle belangrik is en om vir hulle te wys
daar is mense wat omgee – hulle hoef nie die pad van dwelms en drank te volg nie. Hier
word hulle ook aangemoedig om drome en ideale te hê en te werk om dit te verwesenlik.
God se hande en voete bediening hoop om binnekort ook ‘n sentrum te hê waar die
vaardigheidsopleiding uitgebrei kan word bv. messel, teëlwerk, ens. vir mans; basiese
kookvaardighede en kinderopvoeding vir vroue en lewensvaardighede vir almal. Die ander
terrein waar ons graag betrokke by wil raak is die identifisering van talente by kinders en
die ontwikkeling daarvan bv. sport, musiek, skryf en drama.
Gemeenskapstransformasie is die werk van die Heilige Gees en daarom gaan ons voort met
vaste geloofsvertroue dat dit wat ons glo van ons gemeenskap deur God self waar gemaak
sal word.
Om betrokke te raak of vir meer inligting oor Jesus se hande en voete projek kontak ons by: 042 293 2832.
|
 |
|
|