Apr19
KIX Nuusbrief 1ste Kwartaal 2012
Kinders in Christus se hoogtepunte.
Wanneer 'n mens praat oor geloof, kan 'n mens nie anders as om te dink aan die vers Heb 11:1 wat sê: Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. Hierdie was waarmee ons die jaar afgeskop het. Ons het die waarde van geloof behoorlik deurgetrap en die kinders laat besef, geloof is om te glo in dit wat jy nie kan sien nie, as gevolg van dit wat jy wel kan sien. Regdeur die Bybel is daar oral mense wat geloof moes gehad het, en God moes vertrou het vir die onmoontlike, maar nie noodwendig geweet of God wel gaan opdaag en hulle help nie. Tog kon hulle terugkyk na mense wat voorheen ook geloof in God geplaas het, en hoe God elke keer getrou was en vir hulle deurgekom het. Dus kon hulle op God vertrou omdat hulle in die verlede gesien het dat Hy goed was. Daagliks moet ons geloof in God hê en Hom vertrou vir onmoontlike dinge wat oor ons pad kom, en omdat die Here in die Bybel vir ons stories geplaas het van mense wat geloof getoon het, gee dit vir ons ook hoop. Ons noem hulle geloofshelde. Deur die kwartaal het ons van 'n paar geloofshelde geleer en ook na hulle geloofstories geluister. Gesinne en kinders het ook die geleentheid gehad om hulle geloofstories te deel. 'n Geloofstorie is iets waarvoor jy die Here vertrou het en wat onmoontlik gelyk het, en toe het Hy dit laat gebeur. Die kinders het geleer oor ouens soos Moses, Abraham, Josef en nog vele meer. Met 'n klomp blou tooisels het die kinders hulself omskep in die Rooisee wat Moses en die Israeliete voor te staan gekom het nadat hulle uit Egipte vrygelaat was.
Die Here het vir Abraham die belofte gegee dat hy sy nageslagte soveel soos die sand sal maak. Tot vandag toe is elkeen van ons deel van die belofte wat God aan hom nagekom het. Dus het die kinders 'n klein herinnering gemaak om te onthou dat God Sy beloftes hou.
Natuurlik wanneer 'n mens praat oor geloof, is dit nie altyd so maklik nie. Soms moet 'n mens deursettingsvermoë hê: Dit is om aan te hou, selfs al word die lewe moeilik! Dit is die ander waarde waarop ons gefokus het vir die res van die kwartaal. Die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie en soms word jou geloof getoets. In daardie tye is dit belangrik om te weet dat jy nie moet opgee nie en dat jy vir God moet vra om jou te help om deur te druk en deursettingsvermoë te hê. Op baie praktiese maniere het ons dit aan die kinders verduidelik en geïllustreer. So wanneer hulle in 'n situasie kom waar hulle wil moed opgee en eerder ophou, kan hulle onthou dat die Here vir ons die vers, Jesaja 40:31 gegee het om ons te herinner om deursettinsvermoë te hê. "Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke. Hulle hardloop en word nie moeg nie. Hulle loop en word nie afgemat nie."
In die nuwe kwartaal is daar baie opwindende dinge wat wag en ons gaan ook onder andere die waarde genade met die kinders behandel en nog vele pret hê. Ons is opgewonde om almal hier te sien!





Comments (0)